praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Tuesday, 22. May 2012

Bygewerk op:07:38:23 AM GMT

Jy is hier: Menings Briewe Calvinisme en die toekoms van die Afrikanervolk

Calvinisme en die toekoms van die Afrikanervolk

E-pos Afdruk PDF
Drie van die belangrikste Calvinistiese geloofsbeginsels wat deur die meeste blanke Afrikaanssprekende mense vir baie jare aanvaar is en nog steeds aanvaar word, is:

• God het as Persoonlike, Almagtige en Perfekte Wese die mens en die res van die skepping geskep. Hy is verhewe bo Sy skepping. Alle mense daarenteen, is in sonde ontvang en gebore.
• God het voor die skepping van die aarde bepaal watter mense bestem is om eendag die ewige lewe te beërwe - vandaar die Calviniste se dogma van die uitverkiesingsleer (Engels: predestination).
• Diegene wat deel is van God se uitverkore groep, sál Jesus op een of ander stadium in hul lewens as hul enigste Verlosser en Saligmaker aanvaar en sal op grond van hulle geloof, en nié op grond van goeie werke of goeie morele waardes of optredes nie, die ewige lewe beërwe.

Uit die voorgaande drie geloofstandpunte is dit duidelik dat die strewe na 'n beter wêreld of die verbetering van die welsyn van die meeste mense, nou nie eintlik die hoogste prioriteite is van aanhangers van hierdie geloofsbeginsels nie. Omdat Calviniste óók glo dat die Bybel die Woord van God is, en omdat selfs slawerny in sekere dele van die Bybel goedgekeur word, word Calviniste nié daarvan weerhou om materiële rykdomme te bekom en in die proses selfs mense te misbruik en/of te onderdruk nie. Die meeste Calviniste glo dat dit hul plig is om die Evangelie aan andere bekend te maak. Baie vroeëre Christen-Afrikaners het geglo dat God van hulle verwag om swartmense aan te moedig om weg te beweeg vanaf hul "aanbidding" van hul voorvadergeeste.

Terwyl Boeddhistiese (en miskien ook Rooms-Katolieke) monnike glo dat dit verkieslik is om te probeer afsien van aardse geriewe en rykdomme, is daar géén soortgelyke beperking op Calviniste wat hulle daarvan weerhou om die najaag van aardse rykdomme te bevorder nie. Volgens Max Weber het veral Calvinisme aanleiding gegee tot die bevordering van kapitalisme in die Weste. Op grond van hierdie "gees van kapitalisme" waarna hy verwys het, het werkgewers hul werknemers misbruik en het werkgewers die ongelykhede in hul werksomgewings as minder belangrik geag. Hierdie "gees van kapitalisme" het heel waarskynlik sommige Afrikaners gemotiveer om goedkoop swart arbeid te gebruik ten einde hul eie kortsigtige finansiële doelwitte te bereik. Die gebruik van goedkoop arbeid was ook nooit deur die Afrikaanse driesuster kerke beskou as 'n sonde soortgelyk aan die "sondes" van homoseksuele dade, pornografie en ongetroude paartjies wat saamwoon nie.

Terwyl die meeste hedendaagse politieke partye in Suid-Afrika neig na meer sekulêre en liberale grondbeginsels, is daar twee verregse Calivinistiese partye naamlik die Herstigte Nasionale Party (HNP) en Afrikanervolksparty (AVP), wat beide tradisionele Calvinistiese lewenswaardes én die beleid van Apartheid, ondersteun. Hierdie partye se grondbeginsels is soortgelyk aan dié van die ou Nasionale Party voor 1970. Terwyl hulle aan die een kant glo dat die Calvinisme die enigste ware geloof verteenwoordig en dat dit blankes se plig was en is om hierdie "Lig" in Afrika in te dra, glo hulle aan die ander kant dat elke bevolkingsgroep oor hulleself behoort te regeer in hul eie afsonderlike grondgebied. Terwyl baie verregses dus dikwels voorgee dat hulle glo dat die blanke bevolkingsgroep nié noodwendig meerderwaardig is nie, is die meeste van hulle tog neerbuigend in die opsig dat hulle glo dat blankes se godsdiens, demokratiese regeringsvorm en tegnologieë, béter is as die swart Afrikane se tradisionele voorvadergeeste-"aanbidding" en ondemokratiese regeringstelsels en dat die swartman veronderstel is om uiteindelik sekere van die blankes se "beter" norme en waardes te aanvaar. Die regse blanke "baas" sê dus vir die swartman: "Julle kan die reg hê om julleself te regeer in julle eie grondgebied, maar alvorens julle dit kan doen, móét julle eers erken dat die Christendom béter is as jul tradisionele godsdienste."

'n Goeie vraag is natuurlik of die Afrikaner se tradisionele Calvinistiese waardes op die ou end meer voor- as nadele vir Afrikaners ingehou het. Terwyl dit aan die een kant duidelik is dat hierdie waardes geensins Afrikaners daarvan weerhou het om hebsug en kapitalisme te bevorder en in die proses gebruik te maak van swart arbeid nie, is dit aan die ander ook duidelik dat hierdie waardes die oorsaak was van gedurige onenigheid tussen Afrikaners. Ons is bewus van die jarelange kleinlike geskille tussen die Afrikaanse driesuster kerke oor die sing van psalms, vroue as diakens, mag mens dans sonder om dit geniet of is dans heeltemal onaanvaarbaar, ens. Meer as dertig jaar gelede was die oorgrote meerderheid Afrikaners lidmate van een van die driesuster kerke en was hul Calvinistiese lewenswaardes op die oog af nié in konflik met hul intellektuele vermoëns, hardwerkendheid en westerse tegnologieë, met behulp waarvan hulle 'n aansienlike bydrae gelewer het tot die opbou van die land nie. Namate die bevolkingsgetalle van swartmense egter begin toeneem het en die druk al groter geword het om gelyke politieke regte aan swartmense toe te staan, het Afrikaners in toenemende mate begin besef dat hulle sal moet afsien van baie dinge wat vir hulle baie waardevol is. Die bevoorregte posisie van byvoorbeeld Afrikaans op skole, universiteite en op die tv, sou nie vir ewig kon voortduur na die bemagtiging van swartmense nie.

Baie blankes beweer nog steeds dat swartmense dankbaar behoort te wees omdat blankes hulle "opgehef" het vanuit hul oorspronklike "barbaarse" lewenswyse. Hierdie sogenaamde opheffing was egter van verbygaande aard en dit word tans vervang deur verval en agteruitgang. Afrikaners was en is veral ook verdeeld betreffende die Bybelse regverdiging vir die beleid van Apartheid, grootliks omdat kerkleiers en politici geen duidelike riglyne hieroor verskaf het nie. Die geldgierigheid van baie Afrikaners het aanleiding gegee tot hul gebruikmaking van goedkoop swart arbeid, wat weer aanleiding gegee het tot die toename in swart bevolkingsgetalle en uiteindelike ANC bewindsoorname. Dit is 'n feit dat baie Joodse en Engelse myneienaars ook gebruikgemaak het van goedkoop swart arbeid, maar dit is ook 'n feit dat die ou Nasionale Party regering waarvoor die meeste blankes vir baie jare gestem het, nié streng opgetree het teen hierdie praktyk nie. Die ironie is dat dít wat vir baie Afrikaners die "heiligste" is en was, naamlik hul godsdienstige norme en waardes, hul geldgierigheid en hebsug; asook hul sportbeheptheid, dié belangrikste faktore is wat 'n wesenlike bydrae lewer tot die agteruitgang van en geleidelike uitwissing van die eens trotse Afrikanervolk.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: