Die vlugtelingstatus wat die Kanadese regering so pas aan mnr. Brandon Huntley, 'n blanke Suid-Afrikaner, toegestaan het, hou enorme volkeregtelike implikasies in. Indien mnr. Huntley bloot op grond van ideologie of godsdiens in Suid-Afrika vervolg is, kon daar geargumenteer word dat Suid-Afrika deur die afskaffing van bepaalde wette of groter verdraagsaamheid die situasie kon regstel.
Maar in Huntley se geval het die Kanadese immigrasieraad eenparig bevind dat hy op grond van sy ras in Suid-Afrika vervolg word en dat hy in so 'n mate in sy geboorteland bedreig word dat hy nie hierheen teruggestuur mag word nie. Die reëls vir politieke asiel verskil van land tot land, maar die beginsel bly wêreldwyd dieselfde: dat 'n individu in sy land van herkoms om politieke, godsdienstige of etniese redes in lewensgevaar verkeer. In dié geval gaan dit om etniese vervolging. En, anders as in die geval van Afrikaners teen wie daar ook op grond van taal deur die ANC-bewind gediskrimineer word, is Huntley 'n Engelssprekende teen wie daar spesifiek weens sy ras geweld gepleeg word.
Die VSA, Europese Unie, Australië, Rusland en ander lande sal so gou doenlik Kanada se voorbeeld moet volg en moet erken dat blankes in Suid-Afrika vervolg word en daarom op vlugtelingstatus in hul lande geregtig is. Die werklikheid kan nie langer ontken word dat blankes goedsmoeds aangeval word omdat sowel die staatsmedia as die regerende party hulle op meer of minder subtiele maniere as die vyand van die swart meerderheid voorhou nie. Van die TV- en radioprogramme wat byvoorbeeld deur die SAUK uitgesaai word, hits spesifiek rassehaat aan omdat aanbieders of deelnemers leuenagtige voorstellings van die Suid-Afrikaanse verlede maak. Sulke bewering sluit in dat blankes onderwys van swartes weerhou het, hulle doelbewus verarm en selfs massamoorde of 'n volksmoord teen hulle gepleeg het.
Terwyl elke blanke Suid-Afrikaner voortaan oor die reg behoort te beskik om na die nywerheidsland van sy keuse te emigreer vanweë die toestand van vervolging waaraan hy in sy geboorteland blootgestel word, verteenwoordig die Kanadese bevinding ook die sterkste argument nóg ten gunste van 'n Afrikanervolkstaat. Slegs 'n eie grondgebied waar Afrikaners nie omring word deur haatdraende aanvallers van 'n ander ras- en kultuurgroep nie, kan hulle langtermyntoekoms verseker en hul huidige lyding en ellende verlig.
Wanneer die geweldselement by die arsenaal anti-blanke wetgewing in Suid-Afrika gevoeg word, is dit helder dat die Nuwe Suid-Afrika besig is om 'n tweede Rwanda te word waar 'n spesifieke minderheidsgroep deur die meerderheid vir aanvalle geteiken word. Plaas- en huisaanvalle is niks minder as etniese suiwering nie en die ekstreme geweld wat met sulke aanvalle gepaardgaan, is 'n bewys dat die Suid-Afrikaanse samelewing reeds in 'n etniese konflik verkeer wat vorentoe net kan vererger.
Die reaksie van ANC-woordvoerders op die Kanadese besluit, dat dit "rassisties" sou wees, getuig van 'n soort Mugabeagtige eiegeregtigheid by die regerende party en dat hy eintlik niks verkeerds in die huidige situasie sien nie. Ook Mugabe kryt gereeld sy kritici as "rassiste" uit. Die term "rassis" in Suid-Afrika is boonop besig om op sigself 'n vorm van haatspraak te raak omdat dit uitsluitlik gebruik word om lede van die blanke minderheid te stigmatiseer en as "boos" voor te stel.
Rassenasionalisme maak reeds langer as 'n eeu deel uit van die moderniseringsproses onder lede van die ontwortelde en vervreemde swart middelklas in Afrika, die VSA en ander lande. Afrikaner-antropoloë en politieke denkers het reeds langer as vyftig jaar die huidige bloedbad voorspel indien Suid-Afrikaanse blankes van alle politieke mag en grondgebied gestroop sou word. Hul name en geskrifte mag in die vergetelheid versink het, maar danksy die Kanadese immigrasieraad kan ons nie langer aan die korrektheid van hul voorspellings twyfel nie.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





