Binnekort gaan 'n vergadering van die PRAAG-bestuur, tesame met mnr. Albert Boshoff van die Boereleed-navorsingsinstituut, plaasvind. Boshoff ondersoek reeds geruime tyd die moontlikheid om 'n menseregtesaak teen Groot Brittanje te open vir die behandeling waaraan Boere en Afrikaners in die konsentrasiekampie en op plase tydens Roberts en Kitchener se verskroeide-aardebeleid ná 1900 onderwerp is. Groot Brittanje het die Haagse Konvensie van 1899, wat op die vooraand van die Tweede Vryheidsoorlog onderteken is, openlik oortree.
Die Haagse Konvensie was die voorloper van die latere Geneefse Konvensies wat menseregteskendings tydens oorloë tot misdade verklaar het. Die Konvensie, wat destyds deur Brittanje en ander grootmoondhede onderteken is, is nog nooit herroep nie en maak dit moontlik om dié land vir sy historiese oorlogsmisdade in Suid-Afrika te vervolg.
Uitgebreide argiefmateriaal is steeds beskikbaar waarin sowel Brittanje as sommige mynmaatskappye en selfs nywerheidsmaatskappye soos Imperial Cold Storage se aandeel aan die menseregtevergrype gedokumenteer is. Teoreties bestaan die moontlikheid om Brittanje, asook van Suid-Afrika se grootste maatskappye wat uit dié tydvak dateer, vir skadevergoeding namens die Afrikanervolk te vervolg. Duitsland, asook inviduele Duitse oorlogsmisdadigers, is konstant deur Israel en Joodse organisasies sedert 1945 vervolg en dié land moes reeds honderde miljarde dollar aan Israel betaal.
Indien daar besluit word om met litigasie voort te gaan, sal dit 'n internasionaal opspraakwekkende gebeurtenis wees.
'n Lid van die PRAAG-bestuur, wat voorlopig anoniem wil bly, het egter sy bedenkinge oor die gedagte van skadevergoeding ná 110 jaar uitgespreek. "Ons moet ook die geopolitieke situasie in ag neem," het hy gesê. "Dit mag wees dat die Afrikaner in sy vryheidstryd Groot Brittanje vorentoe gaan nodig kry en ons wil nie onnodig lande van ons vevreem nie. 'n Blote eis om skadevergoeding kan na 'n geldmaakstorie lyk, net soos die pogings van SA swartes om internasionale maatskappye te dagvaar wat vóór 1994 in Suid-Afrika sake gedoen het. Maar as dit om die herverkryging van ons vryheid en om selfbeskikking gaan, is dit 'n ander saak."
Dr. Dan Roodt van PRAAG meen die kwessie moet van alle kante ondersoek word. "Ek is ook geneig om te dink dat ons nie soseer in die vergoeding as in die herstel van ons grondgebied en vryheid belangstel nie," het hy gesê. "My gevoel is ook dat die huidige Suid-Afrikaanse staat oor geen werklike legitimiteit beskik nie. Daarvoor het die 1994-revolusie te halsoorkop en met die verraad van sleutelpersone in die NP-regering geskied. Dis deesdae gemeensaak dat mnre. De Klerk en Roelf Meyer glad nie onderhandel het nie, maar bloot ter wille van hul eie pensioene en posisies so gou moontlik militêr aan Umkhonto we Sizwe wou oorgee. Mnr. De Klerk se beloofde tweede referendum is nooit gehou nie. Maar ook die 1910-staat is op grond van gruwelike menseregteskendings en die oortreding van die destydse volkereg gestig, dus sit ons met een onwettige staat wat 'n ander een opgevolg het. Ons is besig om in 'n volkeregtelike vakuum te handel, wat die instroming van tienmiljoene onwettige immigrante oor ons landsgrense insluit. Suid-Afrika is geen staat nie; dis 'n ruïne en 'n rampokkerbedryf."
Potensiële steun vir Afrikanerselfbeskikking in Nederland is ook besig om die bordjies in die lang stryd tussen, aan die een kant, Groot Brittanje en haar maaksel, die ANC, en aan die ander kant, die Afrikanervolk, te verhang. "Ook die finansiële penarie waarin Brittanje en Amerika tans verkeer, wat opsigself tot die heropkoms van Duitsland in Europa gelei het, verteenwoordig 'n nuwe gegewe wat ons nog nie behoorlik verwerk het nie. As Nederland in Europa vir ons in die bres kan tree, kan ons dalk Duitse steun vir Afrikaneronfhanklikheid begin verkry," meen dr. Dan Roodt.
Volgens mnr. Albert Boshoff, wat steeds besig is met argivale navorsing oor die volkeregtelike situasie meer as honderd jaar gelede, bestaan daar ten minste een verdrag tussen Duitsland en die Boere wat nooit herroep is nie. "Daar heers blykbaar ook ongelukkigheid in Duitsland oor die wyse waarop die De Klerk-regering die destydse Suidwes-Afrika (tans Namibië) op 'n skinkbord aan SWAPO oorhandig het. SWAPO het reeds duidelik gemaak dat China sy internasionale bondgenoot is, wat beteken dat China besig is om 'n voormalige Duitse kolonie in Afrika te herkoloniseer. Boonop is ons Afrikaners half-Duits, wat beteken dat Duitsland 'n verantwoordelikheid teenoor ons het."
Dr. Dan Roodt is skepties oor enige potensiële Duitse rol by Afrikanerbevryding, maar glo die hele kwessie moet met 'n oop gemoed benader word. "Dit is wel so dat die wêreldpolitiek besig is om baie vinnig te verander, met die afgang van die VSA en sy Britse agterryer, asook die opkoms van China en Duitsland, met 'n nuwe Berlyn-Moskou-as wat sienderoë besig is om tot stand te kom. Samewerking tussen Rusland en Duitsland verteenwoordig 'n wesentlike bedreiging vir die Transatlantiese bondgenootskap van die twintigste eeu. Brittanje, die Anglikaanse Kerk, asook pro-Britse Afrikaners oftewel hensoppers en verraaiers, was nog altyd die magte wat die ondergang van ons volk in Suider-Afrika gesoek het. Die hele gedoente rondom apartheid is deur 'n handjie vol Britte en Anglikane uitgedink en hulle het dit aan die res van die wêreld oorgedra en selfs die ANC se terreur laat befonds. Eintlik het niks oor die afgelope tweehonderd jaar verander nie: 'n mens hoor dieselfde argumente, van dieselfde persoonlikheidstipes. Duitsland ondersteun die liberale DA in Suid-Afrika en is nie heeltemal gekant teen ANC-korrupsie nie, want dit lei tot groter verkope van Mercedesse, BMW's en Audi's. Maar Nederland is ons vriend, terwyl dié land 'n baie noue ekonomiese politieke en ekonomiese verhouding met Duitsland handhaaf. Trouens, selfs in die Britse Financial Times word daar geskryf dat Nederland en Duitsland die ware kern van die Europese Unie verteenwoordig, en nie meer Frankryk en Duitsland nie. Indien die euro vanweë die huidige skuldprobleme tot niet sou gaan, sou daar feitlik onmiddellik 'n nuwe Nederlands-Duitse geldeenheid tot stand kom wat die wêreld se de facto tweede grootste geldeenheid ná die dollar sou wees."
'n Netelige kwessie bly steeds die vraag: Maar wie sal Afrikaners verteenwoordig in die nuwe geopolitiek wat besig is om tot stand te kom en wat vir hulle soveel belofte inhou? "Dit is 'n Gordiaanse knoop wat ons sal moet deurhaak," sê dr. Dan Roodt van PRAAG. "Ek is baie skepties oor die Afrikaanse organisasies wat eintlik in die verlede vasgeval is. Boonop stem die Afrikaners massaal vir die DA, wat 'n uit-en-uit pro-Britse, liberale party is wat 'n tipies Milneriaanse Suid-Afrikanisme najaag. Die gevaar bestaan dat die Vryheidsfront, die laaste Afrikanerparty wat nog aan die formele politiek deelneem, aanstons kan verdwyn en daarmee saam die Afrikaner se vryheidsaanspraak. Ons sal eenvoudig 'n ad hoc-liggaam of -alliansie op die been moet bring wat namens Afrikaners oor hul vryheid en internasionale verhoudinge kan begin onderhandel."
PRAAG ondersoek ook tans die moontlikheid om die Grondwethof te nader oor die ongelyke behandeling wat Afrikaans teenoor Engels van die staat ontvang. "Ons sou graag regstellende aksie ook wou pak, maar ek is bevrees dat die Grondwet so volgens ras gekwalifiseer is dat regstellende aksie omtrent in elke beginsel van die Handves van Regte ingeskryf is. Die ANC en hul Britse adviseurs, asook Afrikanermeelopers, het egter die taalkwessie so effens misgekyk destyds, daarom kan ons dalk daar 'n voet in die deur kry om staatsdiskriminasie teen ons aan die kaak te stel," meen dr. Roodt.
'n Voorstel van mnr. Albert Boshoff dat Afrikaners voortaan konstant klagtes van diskriminasie by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie moet indien, is geesdriftig deur PRAAG verwelkom. 'n Sekretariaat sal binnekort beskikbaar wees om sulke klagtes van die publiek te hanteer en formeel op die Menseregtekommissie te beteken. Sodoende sal 'n rekord van diskriminasie teen Afrikaners opgebou word, wat weer op sy beurt gebruik kan word as dit by eise om grondgebied of selfbeskikking vir Afrikaners kom.
Volgens dr. Dan Roodt, "moet ons egter onthou wat Jan Smuts oor Suid-Afrika gesê het: 'Ons toekoms gaan altyd van buite ons landsgrense bepaal word.' Ook die 1994-revolusie het dié waarheid bevestig. Vandaar PRAAG se klem op buitelandse beïnvloeding en skakeling wat reeds in Nederland tot groot welslae gelei het. 2012 gaan dalk nog 'n groter jaar vir die Afrikaner wees as wat ons in ons wildste drome kon dink."
| < Vorige | Volgende > |
|---|





