Suid-Afrika het Nieu-Seeland vandag met 3 lopies in die derde en beslissende T20 sloeg-en-giggel In Auckland gewen en daarmee beklemtoon dat die span wat omtrent alles reg doen nie noodwendig ’n span sal klop wat omtrent heeltemal droogmaak nie. Vra maar vir AB de Villiers en vir Brendon McCullum, onderskeidelik die kapteins van die Proteas en die Swart Pette. Hoe sal hulle hierdie uitslag eendag vir hulle kleinkinders ontleed? De Villiers kan darem nog sy skouers optrek en die klassieke Boy Louw aanhaal: “Checks the scoreboard.” Maar die arme McCullum is gedoem om vir lengte van dae die derms in ’n vergeefse ondersoek uit te ryg.
A, hoe fier en vurig was sy netjies jongmanne nie! Daardie smorende balle wat hulle geboul het in uitvoering van daardie doelgemaakte taktieke, en daardie vangskote! en die uithardlopery! En ja, die woeste haakhoue wat hulle geslaan het, en die laserakkurate dryfhoue en die kunstige skephoue.
Daar om hulle teë te staan, was ’n span wat blykbaar saamgestel is uit die Wie’s Wie van Suid-Afrikaanse Komediante van die Hede en Verlede, van Al Debbo tot Barry Hilton, Tolla van der Merwe tot Marc Lottering, Casper de Vries tot Emo Adams. Ai die kapperjolle! Daar was AB de Villiers se komieklike briekdans na ’n onbesonne truveeghou, Justin Ontong wat genoeg tyd onder ’n hoë bal gehad het om ’n uiltjie te knip en toe blykbaar net ingedut het toe die bal vanghoogte bereik, Justin Ontong wat so woes na ’n traagbal geswaai het dat sy kolf uit sy hande geskiet en halfpad grens toe grond gevat het, Richard Levi wat vir die grap lae balle oor die grens probeer slaan het totdat hy uiteindelik ’n vanger se hande getref het...
McCullum het die loot gewen en die Narre genooi om te kolf. Levi, ook bekend as die Man van Staal na sy rekordbeurt oor die naweek, het ’n bal laag en hard oor die grens geslaan en toe, amper onmiddellik ’n bal laag en hard na ’n veldwerker geslaan. Albie Morkel het ingekom, ’n monsterses geslaan en toe ’n bal van Southee in ’n vriendelike boog na Nicol geskep.
Die Firma De Villiers en Duminy het toegetree: Die een bekend vir sy grenshoue en die ander vir sy delikate grondspel, en delikaat is die balle wel oor die grond gespeel maar dié keer was dit deur De Villiers terwyl die tenger Duminy die balle herwaarts en derwaarts oor die grens gejaag het. Hierdie was die vals somer te midde van ’n lang winter vir die Suid-Afrikaners. Hulle het reeds 109 lopies na die 12de boulbeurt gehad en ’n gewigtige 200-tal was in reikafstand. Maar, nie net was die Proteas komieklik nie, selfs hulle geluk was sirkusmateriaal. De Villiers het ’n bal só netjies, só presies reguit gedryf, maar Nicol, die bouler, het dit per ongeluk gevang, omgedraai en die aantrippelende Duminy uitgehardloop.
De Villiers het die toere opgejaag met ’n paar behendige grenshoue en toe probeer hy nógmaals ’n komiese truveeghou en verrek – wag vir dit! – sy boudspier. Hoe snaaks was dit! Dit het sy gang so belemmer dat hy besluit het om liewer uit te gaan, iets wat hy gereël het deur sy bypen te ontbloot vir Nicol om te tref. Ontong het gekom, sy kolf verder gegooi as wat hy die bal kon slaan, en die arena verlaat.
Johan Botha, wat beter as meeste is om die leidrade van ’n boulaanval te ontrafel, het stelling ingeneem en saam met Parnell elf skoonballe gespeel, voordat hy uit pure verergdheid die bal oor Guptill se kop wou smeer. Dié het hoog gespring soos Rubberman en sy arm so lang gerek soos Plasticman en die bal gevang op ’n manier waarop hy geen reg gehad het nie. Praat van super!
Uiteindelik het die spul hansworse ’n potensiële telling van 220 afgekerf na 165 op ’n kolfblad waar 180 as die drumpel beskou moes word.
Al wat hulle nou moes doen, was om ordentlik, konserwatief, op ’n duimspykerkop, redelik vol buite die wegpen te boul. Nee wat! Dit sou die maklike manier gewees het. Toe boul hulle eerder kort op die bypen. Die Kiwi-oopmakers, Guptill en Nicol, het met groot uitgelatenheid op al dié vrygewigheid geteer en het dig by die 60 lopies in die eerste vyf beurte geslaan voordat Botha vir Guptill verlei het om ’n bal na Amla te slaan.
Dis nou net hier wat Jesse Ryder aangestryk gekom het vir deelname aan die slagting en met hom saam, ’n boeiende storie. Hy, ’n brutale kolwer, die naaste ding wat die Nieu-Seelanders aan ’n David Warner het, is vroeër die span verbied omdat hy as te geset en sy houding as te beroerd beskou is. Hy het die gimnasium getref, sy dieet van kaasburgers afgeskaal na geroosterde toebroodjies, en merkbaar skraler en fikser teruggekeer. Dis onduidelik hoe hy sy houding probeer rehabiliteer het. Wat sy terugkeer meer as enige iets nodig gehad het, was ’n goeie telling. ’n Halwehonderdtal sou net die ding wees.
Hy het behoorlik onder die koddige Suid-Afrikaanse aanval ingeklim en voor jy woerts! of warts! kon sê, het hy op 49 gestaan, een kort van daardie opskrifwekkende vyftigtal. En hoe verantwoordelik is die man toe nie: In plaas van om dit met een van sy blokhamerhoue oor die grens aan te teken, maan hy homself om dit met ’n veilige, bedeesde, wyse grondlopertjie te kry. Dit was in die sewentiende boulbeurt en Nieu-Seeland het ’n speel-speel vyftien lopies nodig gehad om te wen van agtien balle. ’n Wals!, ’n promenade!, ’n skilpadresies tot by die wenpaal.
Johan Botha boul en Ryder, daardie vyftig so groot soos Tafelberg in sy loopbaanplan, druk ’n bal dié kan toe, kap een terug na Botha, vryf nog een om na die bykantveldwerker... en voor jy weet het hy ’n hele boulbeurt opgebruik om daardie een lopie te bekom.
Hy kry dit toe wel in die volgende beurt teen Morné Morkel, maar nou is hy en Franklin bewus daarvan dat hulle versigtig moet kolf want die balle loop tog uit. Hulle konsentreer toe so hard dat hulle vier lopies loswurg, en dit sluit die een in wat Ryder gekry het toe Ontong hom laat val het. Ryder se vyftigtal was ’n baie, baie duur mylpaal. Suid-Afrika was baie gelukkig dat hy nie op 49 uit is nie.
Skielik moes hulle tien lopies in die laaste twee boulbeurte kry, nog steeds ’n heel verwerkbare takie, maar nou sit hulle in donkierat teen die boulery van Johan Botha vas. Ryder, met die verdwaasde uitdrukking op sy gesig van ’n superheld wat skielik besef die draaiboekskrywer het hom verraai, probeer iets uit niets maak en skep die bal oor sy kop na Morne Morkel, wat, as hy ’n sirkusnar was, homself in ’n speelgoedkar sou in- en uitvou vir die skare se vermaak.
Dis die laaste boulbeurt nou, en die bouler van keuse is Marchant de Lange. Hoekom ’n ervare bouler kies terwyl die ouens so vol sports is? Sewe lopies om te kry. Die Nieu-Seelandse skare is vol moed. Maar so het die Swart Pette se sondes hulle tog ingehaal. Ja, hulle kan kolfblaaie vir hulle soort kolwers, en nog meer, hulle poeierkwasboulers, voorberei. Hierdie kolfblad het egter flink gereageer op spoed en De Lange het genoeg daarvan. Vergeet van volballe of enige finesse. Gee dit gas, en dis al! Vyf balle en twee paaltjies later het Nieu-Seeland ses lopies van die laaste bal nodig. Maar hei, ’n poets werk op sy beste as hy uitgerek word en De Lange – gedoriewaar, die ou rakker! – boul ’n voorvoetfoutbal. Dit word vir ’n lopie gedryf en die Proteas moet ophou ten hemele jubel en die bal moet weer geboul word. Die Kiwi’s kort nou net vier... en dit in ’n land en ’n reeks wat sesse soos druppels uit ’n gieter geval het.
Vinnig, jy weet, en kort. Vergeet die finesse. Mis!
En die Narre het die laaste lag... en lag, en lag, en lag.
Ek wil nou nie sê ek het verlede week aangedui dat die Proteas die laaste lag – en dit ’n lang een, dwarsdeur die Eendag- en Toetsreeks – sal hê nie. Maar ek hét so gesê.
Die ligsinnige gordyntrekker is verby.





