praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 23. February 2012

Bygewerk op:06:37:14 PM GMT

Jy is hier: Sport

Sport

Groen Narre wurg Swart Superhelde

E-pos Afdruk PDF

Suid-Afrika het Nieu-Seeland vandag met 3 lopies in die derde en beslissende T20 sloeg-en-giggel In Auckland gewen en daarmee beklemtoon dat die span wat omtrent alles reg doen nie noodwendig ’n  span sal klop wat omtrent heeltemal droogmaak nie. Vra maar vir AB de Villiers en vir Brendon McCullum, onderskeidelik die kapteins van die Proteas en die Swart Pette. Hoe sal hulle hierdie uitslag eendag vir hulle kleinkinders ontleed? De Villiers kan darem nog sy skouers optrek en die klassieke Boy Louw aanhaal:  “Checks the scoreboard.” Maar die arme McCullum is gedoem om vir lengte van dae die derms in ’n  vergeefse ondersoek uit te ryg.

A, hoe fier en vurig was sy netjies jongmanne nie! Daardie smorende balle wat hulle geboul het in uitvoering van daardie doelgemaakte taktieke, en daardie vangskote! en die uithardlopery! En ja, die woeste haakhoue wat hulle geslaan het, en die laserakkurate dryfhoue en die kunstige skephoue.

Daar om hulle teë te staan, was ’n  span wat blykbaar saamgestel is uit die Wie’s Wie van Suid-Afrikaanse Komediante van die Hede en Verlede, van Al Debbo tot Barry Hilton, Tolla van der Merwe tot Marc Lottering, Casper de Vries tot Emo Adams. Ai die kapperjolle!  Daar was AB de Villiers se komieklike briekdans na ’n  onbesonne truveeghou, Justin Ontong wat genoeg tyd onder ’n  hoë bal gehad het om ’n  uiltjie te knip en toe blykbaar net ingedut het toe die bal vanghoogte bereik, Justin Ontong wat so woes na ’n traagbal geswaai het dat sy kolf uit sy hande geskiet en halfpad grens toe grond gevat het, Richard Levi wat vir die grap lae balle oor die grens probeer slaan het totdat hy uiteindelik ’n  vanger se hande getref het...

McCullum het die loot gewen en die Narre genooi om te kolf. Levi, ook bekend as die Man van Staal na sy rekordbeurt oor die naweek, het ’n bal laag en hard oor die grens geslaan en toe, amper onmiddellik ’n  bal laag en hard na ’n  veldwerker geslaan. Albie Morkel het ingekom, ’n  monsterses geslaan en toe ’n  bal van Southee in ’n  vriendelike boog na Nicol geskep.

Die Firma De Villiers en Duminy het toegetree: Die een bekend vir sy grenshoue en die ander vir sy delikate grondspel, en delikaat is die balle wel oor die grond gespeel maar dié keer was dit deur De Villiers terwyl die tenger Duminy die balle herwaarts en derwaarts oor die grens gejaag het. Hierdie was die vals somer te midde van ’n  lang winter vir die Suid-Afrikaners. Hulle het reeds 109 lopies na die 12de boulbeurt gehad en ’n  gewigtige 200-tal was in reikafstand. Maar, nie net was die Proteas komieklik nie, selfs hulle geluk was sirkusmateriaal. De Villiers het ’n  bal só netjies, só presies reguit gedryf, maar Nicol, die bouler, het dit per ongeluk gevang, omgedraai en die aantrippelende Duminy uitgehardloop.

De Villiers het die toere opgejaag met ’n  paar behendige grenshoue en toe probeer hy nógmaals ’n  komiese truveeghou en verrek – wag vir dit! – sy boudspier. Hoe snaaks was dit! Dit het sy gang so belemmer dat hy besluit het om liewer uit te gaan, iets wat hy gereël het deur sy bypen te ontbloot vir Nicol om te tref. Ontong het gekom, sy kolf verder gegooi as wat hy die bal kon slaan, en die arena verlaat.

Johan Botha, wat beter as meeste is om die leidrade van ’n  boulaanval te ontrafel, het stelling ingeneem en saam met Parnell elf skoonballe gespeel, voordat hy uit pure verergdheid die bal oor Guptill se kop wou smeer. Dié het hoog gespring soos Rubberman en sy arm so lang gerek soos Plasticman en die bal gevang op ’n  manier waarop hy geen reg gehad het nie. Praat van super!

Uiteindelik het die spul  hansworse ’n  potensiële telling van 220 afgekerf na 165 op ’n  kolfblad waar 180 as die drumpel beskou moes word.

Al wat hulle nou moes doen, was om ordentlik, konserwatief, op ’n  duimspykerkop, redelik vol buite die wegpen te boul. Nee wat! Dit sou die maklike manier gewees het. Toe boul hulle eerder kort op die bypen. Die Kiwi-oopmakers, Guptill en Nicol, het met groot uitgelatenheid op al dié vrygewigheid geteer en het dig by die 60 lopies in die eerste vyf beurte geslaan voordat Botha vir Guptill verlei het om ’n  bal na Amla te slaan.

Dis  nou net hier wat Jesse Ryder aangestryk gekom het vir deelname aan die slagting en met hom saam, ’n  boeiende storie. Hy, ’n  brutale kolwer, die naaste ding wat die Nieu-Seelanders aan ’n  David Warner het, is vroeër die span verbied omdat hy as te geset en sy houding as te beroerd beskou is. Hy het die gimnasium getref, sy dieet van kaasburgers afgeskaal na geroosterde toebroodjies, en merkbaar skraler en fikser teruggekeer. Dis onduidelik hoe hy sy  houding probeer rehabiliteer het. Wat sy terugkeer meer as enige iets nodig gehad het, was ’n  goeie telling. ’n Halwehonderdtal sou net die ding wees.

Hy het behoorlik onder die koddige Suid-Afrikaanse aanval ingeklim en voor jy woerts! of warts! kon sê, het hy op 49 gestaan, een kort van daardie opskrifwekkende vyftigtal. En hoe verantwoordelik is die man toe nie: In plaas van om dit met een van sy blokhamerhoue oor die grens aan te teken, maan hy homself om dit met ’n  veilige, bedeesde, wyse grondlopertjie te kry. Dit was in die sewentiende boulbeurt en Nieu-Seeland het ’n  speel-speel vyftien lopies nodig gehad om te wen van agtien balle. ’n  Wals!, ’n  promenade!, ’n  skilpadresies tot by die wenpaal.

Johan Botha boul en Ryder, daardie vyftig so groot soos Tafelberg in sy loopbaanplan, druk ’n  bal dié kan toe, kap een terug na Botha, vryf nog een om na die bykantveldwerker... en voor jy weet het hy ’n  hele boulbeurt opgebruik om daardie een lopie te bekom.

Hy kry dit toe wel in die volgende beurt teen Morné Morkel, maar nou is hy en Franklin bewus daarvan dat hulle versigtig moet kolf want die balle loop tog uit. Hulle konsentreer toe so hard dat hulle vier lopies loswurg, en dit sluit die een in wat Ryder gekry het toe Ontong hom laat val het. Ryder se vyftigtal was ’n   baie, baie duur mylpaal. Suid-Afrika was baie gelukkig dat hy nie op 49 uit is nie.

Skielik moes hulle tien lopies in die laaste twee boulbeurte kry, nog steeds ’n  heel verwerkbare takie, maar nou sit hulle in donkierat teen die boulery van Johan Botha vas. Ryder, met die verdwaasde uitdrukking op sy gesig van ’n superheld wat skielik besef die draaiboekskrywer het hom verraai, probeer iets uit niets maak en skep die bal oor sy kop na Morne Morkel, wat, as hy ’n  sirkusnar was, homself in ’n  speelgoedkar sou in- en uitvou vir die skare se vermaak.

Dis die laaste boulbeurt nou, en die bouler van keuse is Marchant de Lange. Hoekom ’n  ervare bouler kies terwyl die ouens so vol sports is? Sewe lopies om te kry. Die Nieu-Seelandse skare is vol moed. Maar so het die Swart Pette se sondes hulle tog ingehaal. Ja, hulle kan kolfblaaie vir hulle soort kolwers, en nog meer, hulle poeierkwasboulers, voorberei. Hierdie kolfblad het egter flink gereageer op spoed en De Lange het genoeg daarvan. Vergeet van volballe of enige finesse. Gee dit gas, en dis al! Vyf balle en twee paaltjies later het Nieu-Seeland ses lopies van die laaste bal nodig. Maar hei, ’n  poets werk op sy beste as hy uitgerek word en De Lange – gedoriewaar, die ou rakker! – boul ’n  voorvoetfoutbal. Dit word vir ’n  lopie gedryf en die Proteas moet ophou ten hemele jubel en die bal moet weer geboul word. Die Kiwi’s kort nou net vier... en dit in ’n  land en ’n  reeks wat sesse soos druppels uit ’n  gieter geval het.

Vinnig, jy weet, en kort. Vergeet die finesse. Mis!

En die Narre het die laaste lag... en lag, en lag, en lag.

Ek wil nou nie sê ek het verlede week aangedui dat die Proteas die laaste lag – en dit ’n  lang een, dwarsdeur die Eendag- en Toetsreeks – sal hê nie. Maar ek hét so gesê.

Die ligsinnige gordyntrekker is verby.

Laat die krieket begin!

SA Leviatan verslind 11 Kiwi’s

E-pos Afdruk PDF

Vir die eerste helfte van vanoggend se T20 kriekettoets het die Nieu-Seelanders soos ’n miljoen dollars gelyk en die Proteas soos ’n gekreukelde R20-noot. Dis toe dat ’n blonde blanke jong Kapenaar, gebou soos ’n loskopstut, sy kolf getrek en die veld geneem het. Sestien boulbeurte later was daar van die swierige Swart Pet net rokerige rafels oor. Die Kiwi’s, soos op hierdie webblad voorspel, het nie geweet wanneer om bekommerd, baie bekommerd, te raak nie. Nou weet hulle.

Hulle selfversekerdheid was opgepomp deur ’n  wegtoetsoorwinning oor ’n Aussie span wat nog aan bomskok gely het na hulle toer Suid-Afrika toe, en ’n afknouery van ’n span uit daardie krieketsterfabriek genaamd Zimbabwe. Boonop het hulle Suid-Afrika – wat aan ’n wêreldbekerdroom gestik het – in hulle laaste EDI-wedstryd uit daardie toernooi geboender. Al wat dit nog geverg het om vir hulle ’n  algehele oorskatting van hulle eie kolf-en-balvoortreflikhede te gee, was om ’n slofvoetende Suid-Afrikaanse span in die eerste T20 ’n paar dae gelede te klop. Maar nou is hulle weer herinner aan wat dit is om teen ’n regte span te speel.

AB Div het die loot gewen en die bal aangevra. Suid-Afrika, op soek na ’n werkbare beurteindeboulaanval het vir Wayne Parnell in Rusty Theron se plek betrek – en hulle moet seker nou besef dat dáár nie vreugde te vinde is nie. Die Suid-Afrikaanse boulers het vir Guptill, en later Brendon McCullam met lui balle weerskante van die penne gevoer en die kolwers soos wêreldkloppers laat lyk. Die geheimenis rondom Johan Botha se weglating teen die Sri Lankane het verdiep, want hy was die één bouler wat raaisels aan die Nieu-Seelandse kolwers gestel het wat hulle nie kon uitwerk nie. Sy variasie en beheer het die kolwers verfonkfaai.

Die ander boulers het lekkernye aangedra en die kolwers het gevreet, en as daar ooit ’n  krieketveld is om op baldadig – verskoning! – te raak, is dit Seddon Park in Hamilton. Nieu-Seeland maak mos eintlik vir net een sport voorsiening – rugby, en die Kiwi’s moet voetbalvelde vir krieketwedstryde gebruik. ’n Gesmeerde krieketbal trek verder as ’n  rugbybal wat selfs deur Frans Steyn geskop is. Terwyl die Nieu-Seelanders gehalleluja het oor al die sesse wat hulle slaan, het dit hulle betaam om te onthou dat ’n ses haaks van die paaltjies maar net meer as vyftig meter moes trek om ’n skaduwee oor die grens te trek.

Na ’n heroïese gesloegery deur Nieu-Seeland het hulle 173 lopies – kan dit wees na al daardie gemoker van swak balle oor kort grense? – ja, 173 lopies.

Trek die gordyn weg vir die Tweede Bedryf. In stap die breë Richard Levi. Die Nieu-Seelanders het ’n plan teen hom: Boul vol op die bypen. Dis ’n swak plan, swak geïmplementeer. Levi swaai na alles wat hy sien met al die subtiliteit van ’n  houtkapper wat ’n baie dik boom voor sonsondergang probeer afkap. Sy eerste treffer is ’n skramsskoot; die bal ontmoet die kolf op die buiterand – en skoert oor die grens vir ’n ses. Daarna is dit voltreffer na voltreffer en die een bal na die ander word oor die bykantgrens versend.

Levi het ’n goeie oog, wonderlike tydsberekening, dik gewrigte en kort arms, m.a.w. hy het die presiese bouvorm van ’n balslagter. Kort arms gee die kolwer ’n kleiner swaairadius, wat beteken hy het net ’n snars meer tyd om sy hou aan te pas want die kolf kom net daardie bietjie vinniger op spoed. Omdat die swaairadius kleiner is, is die kolf langer op die onderskeppingsvektor. En so: David Warner van Australië; Eoin Morgan van Engeland. En nou, Richard Levi van die Proteas.

Hy was eenvoudig brutaal. Die balle wat nie met die trajek en hoogte van ’n  reënboog oor die grens is nie, het laag en vlammend soos ballistiese missiele oor die tou geskroei.

Aan die anderkant het Stem-in-die-Bos Amla met dié benadering geëksperimenteer en summier gesneuwel toe hy nie die bal oor die binnekring by halfweg kon slaan nie. Wayne Parnell het as mokerman ingestap, ’n mooi vier geslaan en toe homself soos ’n koeksister geknoop in ’n vergeefse poging om terug te kom in sy kolfkampie nadat hy ’n  woerbal van Nicol tegemoetgehuppel en heeltemal mis geslaan het.

AB de Villiers het ingestap gekom en ’n duidelike kolfplan met hom saam gebring: Hy sou Levi die slaanwerk laat doen, homself insout en dan die kastyding oorneem sodra die aanvangskolwer sy stokke verloor. Maar Levi het nie die plan mooi verstaan nie en aangehou om die huls van die bal af te slaan.

Al Nieu-Seeland se ruiters en al Nieu-Seeland se manne het saam 9 sesse geslaan; Levi het dertien alles op sy eie gefoeter. Dit is ’n nuwe wêreldrekord, drie meer as die verwoede Chris Gayle se beste. Hy het die vinnigste T20-toetshonderdtal in die boeke geskryf – 0-100 in 45 balle. Sy telling van 117 ewenaar die beste ooit, ook van die kolf van Gayle, maar omdat hy nie uit is nie, is hy nou bo-op die piramide.

Die nare waarheid het seker nou tot selfs die Nieu-Seelanders deurgedring. Hulle kan hulleself verder mislei deur te dink die Proteas is ’n span met Levi of niks. Leer sal hulle van vooraf leer van Amla, De Villiers, Morkel, Albie, Botha en selfs Duminy, almal manne wat ’n bouloffensief kan aanval met die doel om ernstige skade aan te rig. En wanneer die boulaanval uiteindelik sinchronisasie bereik, sal die Swart Pette ’n paar meelbomme of een van hulle  rugbyskeidsregters nodig hê om hond haaraf te maak.

Die eksterne aanslag op hulle en die interne druk van oorprestasie het die Nieu-Seelanders uiteindelik ingehaal.

En dit is hoe kuikenmoord begin.

Laas Opdateer op Maandag, 20 Februarie 2012 06:56

Verwoede Swart Pette verslaan lustelose Blommies net-net

E-pos Afdruk PDF

Nieu-Seeland se Swart Pette, hulle nasionale krieketspan, het die openingstrofe, die eerste T20-wedstryd van die Proteas se toer, fluit-fluit gewen. En as die oorwinning nie reguit na hulle gloeiende hoofde gegaan het nie, en hulle enigsins ’n  in staat tot ’n  nugtere ontleding van die wedstryd en hulle vooruitsigte is, sal hulle hard en verbete fuif... en onrustig gaan slaap. Hulle kommentators het die trompette teen die lippe, eenparig in hulle mening dat Nieu-Seeland nou “heel bo-op” die kriekethoop is. Hulle “het nou momentum” en daar word vergesigte gesien van oorwinnings in die T-20-, eendag- en toetsreekse.

Wel, nou ja, ’n  T-20 swaeltjie maak nie ’n somer van ’n  toer nie. En eerlikwaar, ek bedoel... T20! Dit is krieket op tik, ’n  balspeletjie vir toeskouers wat sukkel met aandagafleibaarheid. As daar ’n  wyse gryse in die raadsale van Krieket Nieu-Seeland is, drup hy vanaand regoor die Swart Pette se oorwinningskolwyntjie.

Hy sal hulle herinner teen wie hulle speel – en daarmee nie noodwendig wys op Suid-Afrika se (veelvuldige) voortreflikhede nie, maar hulle rare swakpunte. Hy sal verduidelik dat Suid-Afrika elke reeks – hier, daar of waar ook al – sleepvoet begin. Wat veroorsaak dit? Nugter weet en nugter gaan nie sê nie, maar gee die Proteas se span ’n  week af en hulle verval in ’n  winterroes. Vandag, in Wellington, was dit weer so. Hulle was soos ysbere wat na hibernasie verskyn, slegte smaak in die mond, pelse wat loshang, slaapklonte wat in die hoeke van die oë koek. En so speel hulle toe sulke gaap-gaap krieket terwyl hulle  hulleself as’t ware onder die armholtes krap en met slaapstramoë die toneel om hulle met min belangstelling betrag.

Die Swart Pette, daarenteen, verdien elke klop op die skouer. As hulle uit ’n  grot gekom het, was dit met ’n hongergrom op die lippe, blitsende strale uit die oë – gretig vir geweld, lus om bloedige happe vleis te verorber. Hulle het alles reg gedoen, en dit teen volspoed. Eers het hulle die loot gewen en die lomerige Proteas genooi om eerste te kolf. Dit is wat jy doen as daar op ’n  ingelegde kolfblad gespeel word. Hierdie een is ’n  paar kilometers van die stadion voorberei, op ’n  sleepwa gelaai en na die rugbystadion aangery. Daar is ’n  langwerpige vlak graf voorberei en die blad is netjies daarin geïnstalleer. Die probleem is, so ’n  blad het nie ’n  geskiedenis nie en dit is moeilik om te weet hoeveel lopies genoeg sal wees. Om ’n  teiken op so ’n  blad te jaag is tot voordeel van die jaers.

Suid-Afrika se kolfbeurt was, met die uitsondering van ’n  paar stroke, uit die oude doos – d.w.s. so uit die Kepler Wessels-handleiding van 1992. Die kolwers het nie die bal geslaan nie; hulle het dit gepor. Waar T20 krieket woeste swaaihoue vereis, het die Proteas delikate pietshoutjies aangebied, soos ’n  skynswaardgeveg in ’n  balletuitvoering. In plaas van innovering was daar korrekte, tegniese krieket – soos dit op die meerdaagse toetsveld hoort. Die een kolwer wat skynbaar vroeër as die ander ontwaak het, was ou Stem-In-Die-Bos, Hashim Amla. Hy het die ernstige Kiwi’s se balle lustig rondgekletter voordat hy op 19 uitgehardloop is na ’n  supermenspoging deur Martin Guptill.

Colin Ingram het uitgeslof gekom, befoeterd soos ’n  tiener wie se middagslapie deur iets so beuselagtig as ’n  internasionale krieketwedstryd onderbreek is. Hy het nie net verskrik nie, maar ook glad nie lus om daar te wees nie, gelyk en het sy paaltjie met onbehoorlike haas weggegooi. AB de Villiers en JP Duminy het hulleself ingegrawe asof dit vir die duur van die winter is, asof dit die eerste sessie van ’n  tydlose toets was. De Villiers het genoeg selfrespek gehad deur vroeg uit te gaan eerder as om almal se tyd verder te mors. Duminy het beurt na beurt sulke fraai, geslepe krieket gespeel en gelyk asof hy onder die indruk was dat die planeet sou ontplof as hy ’n  bal tot by die grens slaan.

Uiteindelik het Vernon Philander darem sy moer skuins gedraai en vier agtereenvolgende sesse van ’n  hopelose wegdraaibouler – wie se naam onbelangrik is – oor middebaan in die skare in te slaan.

Die Proteas het verbete gekeer dat enige vennootskappe tussen hulle lede sou ontstaan en dit gedoen deur ritmies hulle paaltjies weg te gooi. Die sawwe begin het tot ’n  einde gekom met Johan Botha en Albie Morkel in die kolftuig. Botha die Vernuftige het ’n  paar vernuftige viere geslaan.

Die Nieu-Seelanders het voortgegaan om alles reg te doen. Sowat van balle op die tiekie naby die kolfstreep, sowat van sissende draaiballe en knallende snelballe... Hulle het alles gevang wat gevang moes word en die penne raak gegooi toe dié getref moes word. En hier is die verstommende ding: Nadat hulle alles reg gedoen het, en die Proteas skaars ’n  paar dinge skaflik gedoen het, het Suid-Afrika 147 lopies op die telbord gehad.

Die Swart Pette het hulle vorm in die tweede skof behou. Al het hy ’n  naam soos ’n  skadelose siertenkvissie, het Martin Guptill elke bal binne trefafstand venynig en sekuur raakgeslaan. Die Proteas het eweneens húlle vorm behou. Die boulers het kort en wyd geboul, die veldwerkers was elke keer nét uit posisie of te traag om regtig te hardloop vir vangskote. Guptill, en Brendon McCullum in ’n  mindere bate, het krieketballe soos ’n  meteorietstorm op die stadion uitgegiet.

En nadat hulle alles tot die beste van hulle vermoë en met groot verbetenheid gedoen het, en die Proteas met dubbel die entoesiasme bloot traag sou gelyk het, moes die Swart Pette nog ses lopies in die laaste boulbeurt kry om te wen. Dit hét hulle teen Johan Botha gekry, maar dit is juis dít wat die Nieu-Seelanders vir die Rennies sal laat gryp. Nadat hulle hulle absolute, onafgebroke beste gelewer het, en nadat die Proteas onverpoosd triestig was, was daar uiteindelik bitter min verskil tussen die spanne.

Die Nieu-Seelanders is soos ’n  klein motor met ’n  klein, hoëwerkverrigtingenjin – hulle kan meeding as elke onderdeeltjie presies reg werk en hulle sonder onderbreking teen die hoogste toere anderkant die rooilyn ry. Die Proteas, daarenteen, is ’n  V8 wat, sonder om te probeer of om die enjin te oorspan, rondte na rondte teen onbehoorlike spoed kan ry.

Die Nieu-Seelanders het amper die volmaakte wedstryd gespeel. Hulle kan nie beter nie. En die Proteas kan nie vrotter nie. En glo my, hulle sal nie.

Die Nieu-Seelanders het verlede jaar die Rugby Wêreldbeker gewen. Mag dit vir hulle genoeg wees. Want hulle gaan nie nog ’n  krieketwedstryd teen Suid-Afrika wen nie; nie hierdie somer nie.

  • Suid-Afrika: 147/6 na 20 boulbeurte. Duminy 41, Ontong 32
    Southy 3 paaltjies vir 21.
  • Nieu-Seeland 148/4 na 19.4 boulbeurte. Guptill 78*, Williamson 24
    Duminy 1 paaltjie vir 20.

JPAGE_CURRENT_OF_TOTAL