Oorspronklike en vernuwende denkers in die politieke wetenskap en filosofie is in ons moderne tyd so skaars soos hoendertande. Professor Koos Malan het egter deur daardie muur gebreek, en hierdie uitstekende boek die lig laat sien, waarin hy die ontstaan en ontwikkeling van die moderne staat, of soos hy dit noem: “staatlikheid” ontleed en beskryf, en aan die einde met vefrissende logika en oorspronklikheid ‘n antwoord bring, wat hy "politokrasie" noem.
Hierdie boek is ‘n “moet lees” vir almal wat belangstel in die politiek, politieke wetenskap en staatsleer. Dit is in ‘n boeiende trant geskryf, en nêrens raak Malan in ‘n geykte langdradige akademiese gebrabbel vasgevang nie. Die logika van sy argumente word stapsgewys uiteengesit, en hy bou die ontstaan, ontwikkeling en finale wese van die begrip staatlikheid sistematies uit, tot by die krake in die moderne staat, waarna hy die alternatief aanbied.
Regter Eberhard Bertelsman van die Hooggeregshof beskryf die boek as “’n meesterlike opsomming van die geskiedenis van die Westerse staatsfilosofie, staatkunde en staatsreg...”
Frank Judo, advokaat in Brussel, België, vra die vraag: “Wordt de klassieke trias; monarchie, aristocratie en democratie binnenkort aangevuld met een vierde type, namelijk de politocratie?”
George Barrie van die Universiteit van Johannesburg, sê Malan se beskrywing van politokrasie, wat op daadwerklike demokrasie neerkom, verdien daadwerklike en diepsinnige oorweging.
Malan se ysige nugtere slotsom van die moderne territoriale staat is soos volg:
- Dit verteenwoordig al vir drie eeue die meestersbegrip van die wêreld se dink en doen in die poltiek en die reg.
- Dit baken grense af van dít wat doenbaar, denkbaar, haalbaar en toelaatbaar is in die openbare sfeer, en het terselfdetyd ‘n grondige uitwerking op die burgerlike sfeer en die private domein.
- Die behoefte aan die instandhouding van die staatlike orde het gelei tot die vestiging van die moderne staatlike paradigma, en daarvolgens is wetenskaplike arbeid en ontwikkeling net gerig op die beskerming en instandhouding van die staatlike orde.
- Een van die basiese uitgangspunte van die staatlike paradigma is dat die staat nie ‘n daadwerklike gemeenskap van mense veronderstel nie, maar dat dit bloot ‘n bevolking van enige aantal mense huisves, ongeag of daar enige bande van taal, kultuur, etnisiteit, godsdiens, afkoms of enigiets dergeliks tussen hulle hoef te bestaan.
- Die enigste twee gemeenskaplike faktore tussen individue wat die staatsbevolking uitmaak, is, eerstens hulle teenwoordigheid in dieselfde territorium waarvan hulle gebruik maak om private belange te bevorder, en tweedens dat hulle aan dieselfde regsorde onderworpe is. Hulle is met ander woorde losstaande individue wat ‘n atomistiese bestaan ter bevrediging van private behoeftes en ter bevordering van private belange en voorkeure voer.
- In die mate waartoe individue moontlik wel in ‘n taal-, godsdienstige, etniese, kulturele of dergelike groep ingebind is, is dit blote toeval en vir die inrig van die openbare orde juridies en polities irrelevant. Sodanige groeperings is slegs van private betekenis en mag nie as openbare realiteit hanteer word om sodoende die aard van die staat te bepaal nie.
- Dus, in die openbare orde – die reg en die politiek – is slegs twee entiteite relevant: die individu en die staat.
Die leser word met die werklikheid gekonfronteer dat die mense binne ‘n staat net gebruik word om die staat as entiteit in stand te hou, en dat die staat nie ter wille van die mense binne sy territorium bestaan nie. Die staat het ‘n eiegeregtige dier geword.
Malan definieer sy nuwe politieke model, politokrasie, soos volg: “Politokrasie omskryf ‘n omvattende politiek-konstitusionele orde – veelsferige regering deur die burgers (politai) van elke politieke gemeenskap oor die besondere res publica – die gemenebes – van die betrokke gemeenskap.” Die begrip politokrasie is ontleen aan die klassieke Griekse begrip polis – die stadstaat. Die politai – die burgers – was die burgers van die polis en was as sodanig daadwerklik vir die regering van die polis verantwoordelik. Verder redeneer Malan dat met politokrasie weggedoen word met burgerskap se uitsluitlike vereenselwiging met die territoriale staat, en verbind dit darenteen primêr met beperkter en hegter tuistelike gemeenskappe waar ‘n res publica in reële terme bestaan en meer regstreeks en intiem deur die burgery beleef word.
Die ontleding van die moderne begrip staatlikheid en die model wat deur Malan omskryf word, bring werklik vernuwende denke oor veral state waar daar meer as een etniese of kulturele gemeenskap binne die moderne territoriale staat byeen is, en elke student van politieke en staakundige wetenskap sal armer wees om nie die boek te lees nie.
Titel: Politokrasie: 'n Peiling van die dwanglogika van die territoriale staat en gedagtes vir 'n antwoord daarop
Outeur: Koos Malan
ISBN: 978-0-9869857-3-7
Bladsye: 358
Omslag: Sagteband
Datum: 2011
Uitgewer: Pretoria University Law Press



Ek het so pas Fransi Phillips se roman, Net 'n lewe, wat verlede jaar die eerste prys in Lapa se romankompetisie gewen het, op een slag klaar gelees. Op die eerste bladsy word die hoofkarakter in 'n "relatief ordentlike moord" vermoor:

