praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 23. February 2012

Bygewerk op:06:37:14 PM GMT

Jy is hier: Vermaak

Vermaak

Politokrasie – 'n vernuwende blik op moderne staatsbegrip

E-pos Afdruk PDF

Oorspronklike en vernuwende denkers in die politieke wetenskap en filosofie is in ons moderne tyd so skaars soos hoendertande. Professor Koos Malan het egter deur daardie muur gebreek, en hierdie uitstekende boek die lig laat sien, waarin hy  die ontstaan en ontwikkeling van die moderne staat, of soos hy dit noem: “staatlikheid” ontleed en beskryf, en aan die einde met vefrissende logika en oorspronklikheid ‘n antwoord bring, wat hy "politokrasie" noem.

Hierdie boek is ‘n “moet lees” vir almal wat belangstel in die politiek, politieke wetenskap en staatsleer. Dit is in ‘n boeiende trant geskryf, en nêrens raak Malan in ‘n geykte langdradige akademiese gebrabbel vasgevang nie. Die logika van sy argumente word stapsgewys uiteengesit, en hy bou die ontstaan, ontwikkeling en finale wese van die begrip staatlikheid sistematies uit, tot by die krake in die moderne staat, waarna hy die alternatief aanbied.

Regter Eberhard Bertelsman van die Hooggeregshof beskryf die boek as “’n meesterlike opsomming van die geskiedenis van die Westerse staatsfilosofie, staatkunde en staatsreg...”

Frank Judo, advokaat in Brussel, België, vra die vraag: “Wordt de klassieke trias; monarchie, aristocratie en democratie binnenkort aangevuld met een vierde type, namelijk de politocratie?”

George Barrie van die Universiteit van Johannesburg, sê Malan se beskrywing van politokrasie, wat op daadwerklike demokrasie neerkom, verdien daadwerklike en diepsinnige oorweging.

Malan se ysige nugtere slotsom van die moderne territoriale staat is soos volg:

  • Dit verteenwoordig al vir drie eeue die meestersbegrip van die wêreld se dink en doen in die poltiek en die reg.
  • Dit baken grense af van dít wat doenbaar, denkbaar, haalbaar en toelaatbaar is in die openbare sfeer, en het terselfdetyd ‘n grondige uitwerking op die burgerlike sfeer en die private domein.
  • Die behoefte aan die instandhouding van die staatlike orde het gelei tot die vestiging van die moderne staatlike paradigma, en daarvolgens is wetenskaplike arbeid en ontwikkeling net gerig op die beskerming en instandhouding van die staatlike orde.
  • Een van die basiese uitgangspunte van die staatlike paradigma is dat die staat nie ‘n daadwerklike gemeenskap van mense veronderstel nie, maar dat dit bloot ‘n bevolking van enige aantal mense huisves, ongeag of daar enige bande van taal, kultuur, etnisiteit, godsdiens, afkoms of enigiets dergeliks tussen hulle hoef te bestaan.
  • Die enigste twee gemeenskaplike faktore tussen individue wat die staatsbevolking uitmaak, is, eerstens hulle teenwoordigheid in dieselfde territorium waarvan hulle gebruik maak om private belange te bevorder, en tweedens dat hulle aan dieselfde regsorde onderworpe is. Hulle is met ander woorde losstaande individue wat ‘n atomistiese bestaan ter bevrediging van private behoeftes en ter bevordering van private belange en voorkeure voer.
  • In die mate waartoe individue moontlik wel in ‘n taal-, godsdienstige, etniese, kulturele of dergelike groep ingebind is, is dit blote toeval en vir die inrig van die openbare orde juridies en polities irrelevant. Sodanige groeperings is slegs van private betekenis en mag nie as openbare realiteit hanteer word om sodoende die aard van die staat te bepaal nie.
  • Dus, in die openbare orde – die reg en die politiek – is slegs twee entiteite relevant: die individu en die staat.

Die leser word met die werklikheid gekonfronteer dat die mense binne ‘n staat net gebruik word om die staat as entiteit in stand te hou, en dat die staat nie ter wille van die mense binne sy territorium bestaan nie. Die staat het ‘n eiegeregtige dier geword.

Malan definieer sy nuwe politieke model, politokrasie, soos volg: “Politokrasie omskryf ‘n omvattende politiek-konstitusionele orde – veelsferige regering deur die burgers (politai) van elke politieke gemeenskap oor die besondere res publica – die gemenebes – van die betrokke gemeenskap.” Die begrip politokrasie is ontleen aan die klassieke Griekse begrip polis – die stadstaat. Die politai – die burgers – was die burgers van die polis en was as sodanig daadwerklik vir die regering van die polis verantwoordelik. Verder redeneer Malan dat met politokrasie weggedoen word met burgerskap se uitsluitlike vereenselwiging met die territoriale staat, en verbind dit darenteen primêr met beperkter en hegter tuistelike gemeenskappe waar ‘n res publica in reële terme bestaan en meer regstreeks en intiem deur die burgery beleef word.

Die ontleding van die moderne begrip staatlikheid en die model wat deur Malan omskryf word, bring werklik vernuwende denke oor veral state waar daar meer as een etniese of kulturele gemeenskap binne die moderne territoriale staat byeen is, en elke student van politieke en staakundige wetenskap sal armer wees om nie die boek te lees nie.

Titel: Politokrasie: 'n Peiling van die dwanglogika van die territoriale staat en gedagtes vir 'n antwoord daarop
Outeur: Koos Malan
ISBN: 978-0-9869857-3-7
Bladsye: 358
Omslag: Sagteband
Datum: 2011
Uitgewer: Pretoria University Law Press

 

Laas Opdateer op Maandag, 20 Februarie 2012 07:19

'n Zombie van die Nuwe Suid-Afrika

E-pos Afdruk PDF

Ek het so pas Fransi Phillips se roman, Net 'n lewe, wat verlede jaar die eerste prys in Lapa se romankompetisie gewen het, op een slag klaar gelees. Op die eerste bladsy word die hoofkarakter in 'n "relatief ordentlike moord" vermoor:

"Dit was 'n relatief ordentlike moord, gemeet aan Suid-Afrikaanse standaarde. Haar lang, skraal vingers, wat vir my haar beste bate was, is nie afgesny nie en haar gesig is nie vermink nie. Net drie skoon skote deur haar hart."

Die res van die boek bestaan uit 'n vertroulike dagboek - die Franse het 'n mooi woord daarvoor, 'n journal intime - wat sy gehou het, asook enkele inleidende opmerkings deur haar vriendin, Heleen. In haar testament het sy die dagboek "om een of ander duister rede" aan Heleen, wat reeds in Australië woon, bemaak.

In die kort gedeelte oor "Die erflating", vertel Heleen:

"Die laaste keer toe ek haar uit Australië gebel het, het sy my vertel dat sy nou net so bang is vir die polisie as die kriminele, omdat 'n mens nie meer tussen die twee groepe kan onderskei nie. 'Die polisie verhuur deesdae hulle uniforms aan die kriminele,' het sy geskreeu van die lag.

My humorsin was nie heeltemal robuust genoeg om dit te akkomodeer nie. 'Jy moet wegkom,' het ek geroep. 'Wat doen jy nog in daardie land?'

'My lewe is net 'n lewe,' het sy gesug.

'Die lewe is die kosbaarste ding wat bestaan!'

Sy was skielik somber. 'En ook die nietigste.'"

Só, sommer met die intrapslag, plaas Phillips ons vierkant in die eksistensieel-politieke vraagstuk van die Nuwe Suid-Afrika: om te emigreer, of om te oorleef in een van die gewelddadigste lande op aarde waar anargie op soveel gebiede reeds heers.

Telkens in die boek verwys die reeds ontslape vertelster na haar "dooie taal, Afrikaans" waarin sy teen wil en dank aanhou skryf. Phillips se toon is voortdurend ironies, aweregs, plek-plek selfs kru.

Die blote feit dat hierdie teks met sy gestroopte styl en ontnugterde blik op ons land 'n romanprys in die huidige Suid-Afrika kon wen, spreek vir my al boekdele, by wyse van spreke. Baie lank is die Afrikaanse letterkunde, ook vanweë die kulturele manipulasie van die Nasperskoerante, deur figure soos Antjie Krog en André P. Brink oorheers wat uit wit skuld en die stereotipering van hul eie mense vir 'n buitelandse of Engelse gehoor kuns probeer maak het. Nou kom Phillips en toon aan ons 'n wêreld soortgelyk aan dié wat ons elke dag beleef, waarin menselewens deur geweld verwoes word of waar witmense nie meer geredelik werk kan kry nie.

Om Net 'n lewe as "polities onkorrek" te beskryf, laat egter nie reg geskied aan die veelkantigheid van Phillips se perspektief op ons tragedie nie. Want die tragedie van die "relatief ordentlike moord" wat die heldin se lewe kortknip, is ook metafoor vir ons almal se lewens wat op soveel maniere deur 'n onhoudbare maatskaplike toestand geraak word.

Wat die boek verder interessant maak, is hoe ons die onlangse geskiedenis van Suid-Afrika en van die Afrikaner deur die oë van die vermoorde ervaar. Sy is 'n skryfster wat huweliksprobleme opdoen, teen haar man se wil in die filosofie en Afrikaanse letterkunde belangstel, asook uiteindelik sukkel om werk te kry. Sekere politieke of geskiedkundige gebeure word hier en daar aangestip. Daar is egter ook 'n sterk elment van outobiografie, met die vermenging van feit en fiksie. Bekende Afrikaanse skrywers en digters, asook politici en akademici, maak op verskeie plekke in die roman 'n buiging.

Deur hierdie persoonlike geskiedenis, wat plek-plek 'n lydingsweg word, word die treurige verhaal van die Afrikaner se afgang ook vertel. Dit betrek veral die verhouding tussen skrywers of kunstenaars en die volk, daardie verhouding wat sedert die sestigerjare en die rusie tussen Verwoerd en Van Wyk Louw oor Die pluimsaad waai ver so problematies geword het. Tydens haar studentedae by Tukkies is die heldin deel van 'n linkse avant-garde-groep. Op bladsy 97 verwoord sy die naïwiteit van die destydse jeug en haar geloof in die mag van kreatiwiteit:

"Party mense dink seker dis cute wanneer ek my volk uitkak in die liberale kampuskoerant. Maar die enigste ding waarin ek regtig glo, is kreatiwiteit. As die ANC aan bewind kom, sal ek vir hulle my staatsfilosofie-taak stuur oor die grondwet wat gebaseer is op kreatiewe vryheid. Ja sure, hulle sal dit dadelik implementeer en dan is die land se probleme opgelos."

In hierdie sardoniese paragraaf beskryf Phillips eintlik die onnoselheid en wêreldvreemdheid van 'n hele geslag Afrikaanse skrywers, ons geslag, wat wou "oulik" wees en in die proses as bruikbare idiote tot die magsoorname van hierdie eienaardige, argaïese en kwasikommunistiese bewind bygedra het. Ook in ander passasies kan ons Net 'n lewe lees as 'n vorm van literêre en ideologiese selfkritiek.

En dit is iets wat vir my gesond en nódig is. Ek weet nie wie dit gesê het nie, maar 'n klein kultuur kan nie bekostig om verdeeld te wees nie. Groot lande en nasies kan binne hul grondgebied revolusies of langdurige verdeeldheid tussen Katoliek en Protestant, Links en Regs, oorleef. Maar soos ons onlangse geskiedenis aangetoon het, lei verdeeldheid in eie geledere tussen skrywers en politici, of die versplintering in wedywerende partye en organisasies op die duur tot 'n soort selfvolksmoord waarvan ons vandag vele van die meer makabere manifestasies beleef.

Iewers beskryf die hoofkarakter haarself insgelyks as "'n kleptomaniese spook" wat poog om haar lewe van ander kant die graf "terug te steel". Sy is met ander woorde 'n soort lewende dooie, 'n zombie - daardie populêre term vanuit die Negertoorkuns van die eiland Haïti - wat boonop in 'n "dooie taal", Afrikaans, skryf.

Maar soos Lazarus uit die dode opgestaan het en soos Afrikaans in die negentiende eeu begin herleef het nadat selfs die NG Kerk volkome verengels is, wéét ons dat Phillips se slagoffer van 'n "ordentlike moord", ten minste op skrif, nie heeltemal dood is nie, want sy spook steeds op 'n skerpsinnige en indringende wyse by ons. Sy is (was) 'n Afrikanervrou uit die tussenin-wêreld vóór die revolusie, daardie "interregnum" waarvan die Italiaanse kommunis Gramsci gepraat het en wat Nadine Gordimer in haar gewone bewondering vir alles wat Marxisties is as motto by haar novelle July's People aangehaal het:

"The old is dying and the new cannot be be born; in this interregnum there arises a great diversity of morbid symptoms."

Maar die heldin van Net 'n lewe sweer by die God van Kreatiwiteit, iets wat telkens in die boek herhaal word. Uiteindelik, dink ek, wil Phillips vir ons sê dat die skeppingsdaad en selfs letterkunde die potensiaal van bevryding inhou.

In Suid-Afrika is "bevryding" reeds 'n geykte en verdagte woord, veral besmet deur sy gebruik deur die ANC en SAKP as 'n "bevrydingsbeweging". Hoewel Phillips 'n onthutsende blik op ons sosiopolitieke werklikheid bied, sou ek nie haar boek as "betrokke literatuur" wou beskryf nie, omdat daardie begrip ewe seer besmet is deur sy betekenis van "in 'n verhouding tot die party te staan". Soos soveel kommunistiese skrywers van die twintigste eeu wat hul naam en hul kuns aan 'n politieke party, veral die Kommunistiese Party, vasgeketting het, het 'n hele geslag plaaslike skrywers hulself as werktuie vir die ANC aangebied. Tot my stomme verbasing het André P. Brink nog onlangs in die Londense Financial Times sy matelose bewondering vir Oliver Tambo as iemand met "morele krag en filosofiese diepte" bely.

Sonder die ANC sou André P. Brink - of Nadine Gordimer en soveel ander - nie oor 'n identiteit beskik het nie. Fransi Phillips staan in haar nogal postmoderne taalgebruik en lewensbeskouing ver verwyder van die tradisionele Afrikaanse letterkunde van, sê maar, die Dertigers. Tog sluit haar wonderlike vars boek met sy ironiese ontluistering van 'n hele klomp van Mandela se heilige koeie al bulkend doer uit Qunu aan by die totale voorafgaande tradisie, as 'n uitdrukking van 'n bepaalde, inheemse Afrikaneridentiteit. Om Afrikaner te wees, is nie net om Die Stem te sing of om braaivleis, rugby en ander dinge te geniet nie, maar ook om soos die protagonis van Net 'n lewe verknog te wees aan Marc Chagall of Paul Klee, of om klassieke musiek, kunsgeskiedenis of Westerse filosofie te waardeer.

By al die identiteitsvernietigende hoon wat daar vanuit die Kaapse enklawe en sy magtige media vandag teenoor die Afrikaner uitgegiet word, bespeur 'n mens tog die herstel, die heling wat 'n boek soos Net 'n lewe bied. Dis sekerlik gebroke, elegies en geskied in 'n mineurtoon. Dis kamermusiek - teenoor die bombasme, die Triomf (die Stellenbosser Marlene van Niekerk se links-fascistiese werk) wat soos rap-musiek vanuit 'n uitspattige motor in een van ons vervalle middestede dawer.

Ons lewens - en ons kuns - is so nietig in 'n filistynse land wat om twee ander K's draai: korrupsie en konsumpsie. Nietemin is die uitsig wat Fransi Philips vir ons bied op 'n nuwe soort letterkunde, anderkant wit skuld en politieke clichés, so opwindend dat 'n mens nie anders kan as om te dink dat boeke en woorde dalk tog, soos Van Wyk Louw se "beiteltjie", klippe en rotse en lande en selfs die aardbol middeldeur kan kloof nie.

Fransi Philips. Net 'n lewe. Lapa-uitgewers, Pretoria, 2011. ISBN 978-0-7993-5160-6. Prys: R170.

Laas Opdateer op Sondag, 12 Februarie 2012 10:48

Gratis middagkonsert vandag in Pretoria!

E-pos Afdruk PDF

Pretoria-PEN, die skrywersvereniging waarvan dr. Dan Roodt van Praag voorsitter is, bied vandag 'n gratis orrelkonsert in Pretoria aan. Alle Praaglesers is welkom! Bring ook u vriende en familie saam.

Tyd: 15:00

Plek: Nederduits Hervormde Kerk, Du Toitstraat 169, Pretoria-middestad (agter die Reserwebankgebou)

Orrelis: Hentus van Rooyen, orrelis van die NG Kerk Waterkloof

Veilige parkering op die kerkgronde is beskikbaar

Om 14:00 sal daar 'n besoek aan die S.P. Engelbrecht-museum, 'n Afrikaner- kultuurhistoriese museum met allerlei interessante items, plaasvind. U is ook baie welkom om dit by te woon.

JPAGE_CURRENT_OF_TOTAL