praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Tuesday, 22. May 2012

Bygewerk op:07:38:23 AM GMT

Jy is hier: Vermaak Musiek

Musiek

'Lied van my hart' verower harte

E-pos Afdruk PDF

Steve en NadineDeon Opperman & Sean Else groet met twee ekstra vertonings

Na afloop van die eerste vertonings van Lied Van My Hart het dit gegons op sosiale netwerke. Terugvoer van gehore was oorweldigend positief en vol lof en waardering – soveel vertonings, soveel staande toejuigings!

Lied Van My Hart is die skryfspan Deon Opperman en Sean Else se super suksesvolle musiekspel waarin Afrikaanse treffers met ‘n oorspronklike verhaal verweef word. Meer as 19 000 mense het reeds na die Operahuis in Pretoria gestroom, om Lied Van My Hart te ervaar en vir talle was eenkeer net nie genoeg nie.

Deon Opperman sê: "Ons wil hê dat almal wat nog nie in hierdie vertoning van ongelooflike pret kon deel nie, dit wel kan doen voor die gordyn vir die laaste keer sak.” Gevolglik is daar 2 ekstra vertonings op Dinsdag 15 Mei en Woensdag 16 Mei. Dít boonop teen die afslagprys van slegs R195.00 per kaartjie, vir enige sitplek in die teater. Familie- en groepkorting ook beskikbaar.

Met supersterre Steve Hofmeyr en Nádine in die hoofrolle, ondersteun deur groot name soos Elzabé Zietsman, Vaughan Gardiner, Altus Theart en Michelle Botha, is Lied Van My Hart ‘n ster-en-treffer musiekspel skouspel soos nog nooit vantevore. Steve sê dit is vir hom ʼn lagterapie-ervaring. Een van die skaterlag oomblikke is wanneer ʼn aspirant-sanger (Blaise) tydens ʼn oudisie, vir Wayne le Roux (Steve Hofmeyr), sy eie verwerkte weergawe van die lied De la Rey sing. Elzette Kannemeyer (Elzabé Zietsman) ʼn superfeeks, sorg vir spanning en heelwat reaksie uit die gehoor. Jana de Wet (Nádine) is ʼn meisie met ʼn droom – om ʼn popster te word. Sy pak haar tas en verruil haar doodgewone bestaan, vir die roem en rykdom aan die einde van die groot stad se neon-reënboog. Deur haar aangrypende reis sien ons hoe die stad haar onskuld stadig inkatrol en sy in die web van roem verstrengel raak. Sy leer dat bekendheid en rykdom ʼn prys het, en dat die enigste manier om eg te leef, is om trou te wees aan die stem in jou hart...

Bespreking: Computicket-takke of aanlyn by www.liedvanmyhart.co.za
Vervaardigers: Packed House Productions & die Aardklop-Stigting
Rolverdeling: Steve Hofmeyr, Nádine, Elzabé Zietsman, Vaughan Gardiner (Gerhard – Hartland), Altus Theart (Fafa – Getroud Met Rugby), Michelle Botha (Cornia – Getroud Met Rugby), Cobus Venter, Tessa Denton, Johan C Venter (Flip-a-Coin), Edrien Erasmus, Sasha Stroebel en Jaco Muller.

Laas Opdateer op Donderdag, 10 Mei 2012 11:14

Gratis middagkonsert vandag in Pretoria!

E-pos Afdruk PDF

Pretoria-PEN, die skrywersvereniging waarvan dr. Dan Roodt van Praag voorsitter is, bied vandag 'n gratis orrelkonsert in Pretoria aan. Alle Praaglesers is welkom! Bring ook u vriende en familie saam.

Tyd: 15:00

Plek: Nederduits Hervormde Kerk, Du Toitstraat 169, Pretoria-middestad (agter die Reserwebankgebou)

Orrelis: Hentus van Rooyen, orrelis van die NG Kerk Waterkloof

Veilige parkering op die kerkgronde is beskikbaar

Om 14:00 sal daar 'n besoek aan die S.P. Engelbrecht-museum, 'n Afrikaner- kultuurhistoriese museum met allerlei interessante items, plaasvind. U is ook baie welkom om dit by te woon.

'Tree aan' is betrokke teater in die Brecht-styl

E-pos Afdruk PDF

Toneel uit Tree aanTerwyl die volk by die stembus al hoe meer liberaal raak deur mev. Zille se DA slaafs te ondersteun, slaan dramaturge, sangers en skrywers 'n ander rigting in. Deon Opperman se jongste musiekspel oor diensplig en die Angolese oorlog is 'n klap in die gesig van politieke korrektheid en is nes sy vorige opvoering Ons vir jou onbeskaamd patrioties en pro-Afrikaner.

Tree aan is 'n opwindende stuk wat nie net die nostalgie oor die dae van troepie-wees aanwakker nie, maar is ook onbeskaamde politieke teater, ietwat in die styl van die beroemde linkse dramaturg Bertolt Brecht. Trouens, ek het 'n klompie jare gelede geskryf dat Suid-Afrika tans sy “Weimar” beleef en dis geen oordrywing nie. Te midde van politieke spanning en dreigemente van kommunistiese revolusie deur grondhervorming en nasionalisering, verset kunstenaars hulself deur aweregse sienings van die verlede. Tydens die twintigerjare van die vorige eeu het Duitse dramaturge en kunstenaars hulself gedurende die sogenaamde Weimar-republiek insgelyks aan modernistiese ekperimente oorgegee terwyl kommuniste en nasionaliste betoog en op straat handgemeen geraak het.

Diegene wat 'n groot intrige in Tree aan verwag, sal moontlik teleurgesteld weggaan. Hoewel een van die karakters op die grens weens die nalatigheid van 'n makker sterf, is dit geen Agatha Christie nie. Waaroor dit eintlik gaan is om die subkultuur van die ou SA Weermag op die verhoog te laat herleef. Hierin slaag Tree aan op uitmuntende wyse. Die dialoog is vol kwinkslae en gekruide taal, wat 'n mens terugvoer na die dae van inspeksie en uitmergelende ure op die paradegrond. Deur die invoeging van 'n liberale Engelse student, asook 'n ietwat oorgewig, onbeholpe Joodse troepie, sorg die stuk vir heelwat politieke oomblikke, tipies van betrokke of engagé-teater. Die uiteindelike “saamstaan” teen die vyand op die grens, geskied realisties en laat nie bloot die verlede herleef nie, maar sê ook vir ons iets oor die hede waar politieke verdeeldheid onder Afrikaners hoogty vier.

Opperman vertoon die ou oranje, wit en blou Suid-Afrikaanse vlag voortdurend op die verhoog, asook 'n “Slegs Blankes”-bordjie by die stasie waar die troepe die trein moet haal. Die vlag word simbool van 'n hele orde – met die klem op orde – wat deur revolusie venietig is. Dit hang byna vanselfsprekend daar en as 'n mens dink dat daardie vlag net enkele kilometers van die Staatsteater af by Loftus Versfeld verbied is, verkry dit 'n pikante intertekstuele betetekenis. Ook die “Slegs Blankes”-bordjie by die stasie word sonder die gewone moralisme en wroeging vertoon ; dit slaan op die bevolking wat moes diensplig doen en veg: blanke Afrikaner, Engelsman en Jood.

Tree aan is veel envoudiger van opset en minder aanskoulik as die briljante Ons vir jou. Immers bestaan die “historiese kostuums” hier uit bruin weermaguniforms van 'n dekade of drie gelede en nie uit negentiene-eeuse kleding van Boere en Britte nie. Die weermagbarak met sy naakte dakligte, staalkatels en jongmans in uniform doen minimalisties aan en daarom is die sin van die stuk juis in sy dialoog met die hede te vinde, as versets- en politieke teater.

Die mees ontroerende oomblik geskied heel aan die einde waar die name van gesneuweldes tydens die grensoorlog oor 'n deurskynende doek voor die verhoog rol terwyl die “troepies” agter “Die Stem” sing. Dis 'n tipies Brechtiaanse, agitprop- of Weimar-toneel wat 'n soort dramatiese multimedia gebruik om 'n vervloeë patriotisme onder jong Afrikanermans uit te beeld. Met die implisiete wekroep dat daardie patriotisme behoort te herleef om ons huidige probleme aan te spreek!

Die musiekspel opper egter ook die vraag: Waarom? Waarom het soveel jongmans in die fleur van hul lewe op die grens gesterf as minster van buitelandse sake Pik Botha “oor 'n dop brandewyn”, soos hy iewers skryf, sy Kubaanse ampsgenoot kon vind en Suidwes summier aan Swapo kon afteken? En waarom het ons op die slagveld weerstand gebied as die NP se onderhandelaars soos ou vadoeke by die onderhandelingstafel gevou het? Hierdie vrae is tot vandag toe nog nie beantwoord nie en as Tree aan by 'n mens spook, is dit ook om daardie rede.

Plek-plek was die stuk vir my ietwat sentimenteel, veral die liefdeselemente en -briewe tussen troepies en hul agtergelate meisies. Aan die ander kant is dit ook 'n realistiese aspek van die eertydse diensplig. En dan moet ons onthou dat Afrikaners nogal sentimenteel is. Dis so half deel van ons kultuur en ons boersheid. Die eksistensiële kilheid van Europese teater of die anomie van heelwat Britse en Amerikaanse stukke, is nie eie aan ons nie. In dié opsig was die Afrikaanse teater van die sestiger- en vroeë sewentigerjare met sy oordrewe minimalistiese eksistensialisme eintlik kunsmatig, uitheems en resepmatig.

Mev. Helen Zille, wat onlangs 'n ruiker by die name van Kubaanse gesneuweldes by die ANC se Vryheidspark gaan lê het, sal uiters geskok uit Tree aan strompel. Reeds het Beeld, die Prawda van die Noorde, 'n afwysende resensie oor Tree aan gepubliseer, waarop Deon Opperman in 'n brief geantwoord het. As u glo dat die 50 000 troepe met Russiese en Oos-Duitse adviseurs in Angola om dowe neute daar was en dat ons beter daaraan toe sou gewees het as ons reeds in 1974 aan Umkhonto we Sizwe of Swapo oorgegee het, moet u liewer nie Tree aan gaan kyk nie. As u ook dink dat 'n toneelstuk of musiekblyspel oor “ronde karakters” moet beskik, het u nog nie Van Wyk Louw se essays en pleidooie vir mondernisme uit die vyftigerjare gelees nie. Weliswaar is daar stereotipiese elemente aan die karakters en situasie van Tree aan, maar dis deel van die gegewe.

Vir diegene wat hul dienspligdae op 'n nostalgiese en patriotiese wyse wil herleef, of wat bedag is op die vernuftige Brechtiaanse truuks wat Opperman en sy span akteurs en sangers uithaal, is dit egter tot dusver vanjaar 'n hoogtepunt op die teaterkalender. Die meer eklektiese musiek was vir my minder treffend as Sean Else se komposisies in Ons vir jou, maar nie sonder genietlike en ontroerende oomblikke nie.

Binne die breër konteks van die herontwaking van Afrikaneridentiteit wat reeds met Bok van Blerk se De la Rey-lied begin het, speel Deon Opperman met sy musiekblyspele 'n interessante rol om ons te prikkel en aan die dink te sit – en te hou. Hoewel die Afrikaanse kennisgewings intussen skandelik van die mure van die Staatsteater verwyder is, het ek die gevoel gekry dat Afrikaanse teater miskien vir die eerste keer in jare weer relevant, gewild en tegnies innoverend raak. Die staande toejuigings van die gehoor het ook daarvan getuig. Ons het veel meer hiervan nodig.

TREE AAN! SPEELVAK WORD VERLENG OP OPENBARE AANVRAAG!

Genre: Musiekspel

Waar: Staatsteater, Dramaverhoog, Pretoria.

Wanneer: Tot 17 Julie 2011

Kaartjiepryse: Woensdag (20h00) R 225.00, Donderdag (20h00) R 225.00

Vrydag (20h00) R 225.00, Saterdag (15h00) R 275.00

Saterdag (20h00) R 275.00, Sondag (14h00) R 275.00

Dramaturg: Deon Opperman

Regisseur: Deon Opperman

Komponis: Janine Neethling

Orkestrasies: Peter McLea

Vervaardiger: Packed House Productions

Rolverdeling: Vaughan Gardiner, Willem Botha, Altus Theart, Cobus Venter, Brendan van Rhyn, Adam Pelkowitz, Johan Scholtz, Matt Stern en Nadia Beukes.

Laas Opdateer op Donderdag, 23 Junie 2011 09:26

JPAGE_CURRENT_OF_TOTAL